Dinsdag 23 Julie 2013

Huldeblyk aan ons vriend en kollega, Hendrik Hefer (30 April 1953 - 3 Mei 2013)

Hendrik Hefer
(30 Apr. 1953 - 3 Mei 2013)

Op 10 Mei 2013 het prof. Koos Adendorff die begrafnisdiens begin met die woorde: “Die dood kom dikwels vir ons ontydig – of dit deur ’n ongeluk of ’n skietwond of siekte of op enige ander manier op ons pad kom. Vir meeste was die dood van ds. Hendrik ’n groot skok en sonder twyfel vir ons ontydig.

Ons het hom meer as 40 jaar geken. Eers as die Bybelstudie leier by huis-kampe in Melville waar hul gesin destyds gewoon het. Daarna by jeugkampe waar ons saam betrokke was. Marius het by hom in die pastorie in Pretoria gewoon voor Hendrik met Hesta getroud is. Hendrik het saam met ’n ander vriend ons troue waargeneem. Ons het daarna mekaar minder gesien, maar steeds kontak gehou. Hy en Hesta is na Brakpan-Suid beroep. Daar is hulle enigste kind, Barend, gebore.

In 1987 is ons ook na Brakpan-Suid beroep. So het ons mede-leraars  geword en dus dag vir dag saamgewerk. Nadat ons in 1990 na Switzerland uitgestuur is om 'n 3 maande kinderevangeliesasie kursus daar te volg, is ons in 1992 finaal deur die kerkraad en ’n nuwe NKA bestuur as sendelinge na Nederland uitgestuur. In 1995 het Hendrik ons die eerste keer besoek. Nadat hy voorsitter van die NKA geword het, het hy en Barend ons gereeld besoek. In 2002 is Hesta in ’n motorongeluk oorlede. In 2008 is hy met Emélie Pretorius (weduwee met 3 kinders) getroud.

Sy besoeke was werklik ’n onderdeel van ons lewens wat baie vir ons beteken het. Hy het gou by die ritme van ons huisgesin ingeskakel. Wanneer hy dan weer weggegaan het, het ons hom baie gemis. Hy het altyd ons in tye wanneer dinge nie vir ons heeltemal sin gemaak het nie, met wyse raad bygestaan. Hy het die gawe gehad om “die probleem” logies te ontrafel, sodat ons die saak in ’n ander lig gesien het.

Hendrik  was veral 'n getroue vriend. Hy het amper weekliks geskakel om te hoor hoe dit met “die Storms in Nederland” gaan. Hierdie vriendskap was in tye van vreugde en verdriet altyd ’n bemoediging vir ons. Dit is juis die klein dingetjies wat mens so helder onthou as mens terugkyk:
  • Die rustigheid en kalmte wat hy in ’n situasie ingebring het. Niks was ooit ’n krisis nie.
  • Die medisyne wat hy uit SA saamgebring het.
  • Hy het vir elkeen van ons kinders omgegee en tyd gemaak.
  • Hy het gesorg dat die oorplasings maandeliks betyds oorgeplaas is.
  • As ons SA toe gekom het, was hy werklik ELKE keer op die lughawe om ons te ontmoet en ook wanneer ons weer vertrek het.
  • Hy het onder Nederlandse mense wat in ’n sleutelposisie vir ons werk hier is, goeie verhoudings opgebou en onderhou. Ons het van vele hier gehoor dat hy ’n man van integriteit was met standpunte wat respek afgedwing het. 

Dit is egter onmoontlik om iets van Hendrik se lewe weer te gee, sonder om juis te noem waarvoor hy so duidelik standpunt ingeneem het! Toe ons jonk was, het hy as “Hendrik Bybel” bekend gestaan. Hy het die Woord geken soos niemand anders wat ons ken nie. Hy het die Waarheid van hierdie Woord onderstreep, uitgeleef en verdedig. Soms moes daar groot pryse betaal word. Die boekies wat hy geskryf het was met een doel: Om die lig van die Woord van God op sake wat aktueel is te laat skyn, sodat mense nie sou toegee aan dwaalleringe nie. Hy het daarvan gehou om te preek en mense te leer oor die suiwerheid en algenoegsaamheid van die Woord van God. Ons eer sy nagedagtenis hiervoor en het hom altyd juis hiervoor gerespekteer.

Ons gaan hom baie mis. As leermeester en kenner van die Woord van God. As versorger van baie praktiese sake in ons lewens. As voorsitter van die NKA. As “Oom” vir ons kinders, as “ouer broer” en besondere vriend vir ons. Vir die feit dat hy omgegee het en dit gewys het.

Ons kan nie help om saam te stem met die prediker by die begrafnis nie. Sy dood het vir ons ontydig gekom … Maar ons weet dat hy in heerlikheid is, weg van die verval van die wêreld waarin ons leef en die liggaamlike aftakeling wat uiteindelik sy lewe gekos het.

Deur Marius & Amanda Storm

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking