Woensdag 02 Desember 2020

Nuwe leiers maar ook nuwe moontlikhede vir ons!

Op 1 September het ons ‘n groot mylpaal bereik in ons bediening. Ons het al jare in ons nuusbriewe genoem en voorbidding gevra, dat ons so graag meer wil fokus op Bybelonderwys en skoling vir kinderwerkers, Bijbelskole en vir die Veritas Bybel leierskapskursus. Ons glo dit is waar die Here ons nou wil gebruik. Leiers moet opgelei word, om  die werk wat ons nou al deur Sy genade, 28 jaar in Nederland doen, verder te kan dra. Ons glo dit is waar die Here ons wil gebruik en waar Hy meer vrug en seën gee. En in die proses, staan ons verstom om te sien hoe die Here die deure oopmaak.

Om direkteur van IKEG te wees en om dieselfde tyd ook skoling te gee en dissipelskap te doen, het eenvoudig te veel geword! Ons het al vanaf 2010 gebid vir nuwe leiers! En nou is ons verheug dat die Here ’n egpaar, Marco en José Baan vanaf 2012 in die werk gebring het. Marius kon in hulle inbou en stadig maar seker het hulle die verantwoordelikhede van direkteurskap oorgeneem. Op 1 September was dit offisieel en het CEF internasionaal hulle aangestel as die nuwe direkteursegpaar vir Nederland.  Prys die Here! Op die foto dra Marius die kapteinspet oor aan Marco tydens 'n spanvergadering. Ons glo Marco sal ook die Groot Kaptein volg soos wat ons al die jare na gestreef het.

In Veritas is daar ook verskillende leiers (14) wat nou Veritas gee en 2 van die manne het predikante geword! Marius lei nou ook 9 ander op om begeleiers (fasiliteerders) te word.

Wat gaan ons doen noudat ons nie meer die leiers van IKEG is nie?  Ons bly deel van die span van IKEG deur alleen skoling te gee, maar fokus nou nou nog breër as net met IKEG, maar ook by die Bijbelskole en Veritaskollege. Dit is verbasend hoe baie kinderwerk weer terug kom in hierdie opleiding. Dit is opmerklik dat Marius rus vind en energie kry, deur weer hiermee besig te wees. Marco is een van die dissipels van Marius en hy begelei hom ook nog verder.

Ons is verras deurdat Bennie Wolvaardt, leier van Veritas internasionaal, Marius op dieselfde dag wat Marco aangestel is,  gevra het om Veritas nie alleen in Nederland nie, maar ook in Europa verder bekend te stel en waar moontlik, te ontwikkel. Dit is regtig besonder dat die Here die deure so oopgemaak het. Marius is in elk geval al betrokke in Parys met Johan Bloemhof en sy seun Jean, en twee ander, om hulle daar te help om die Veritas kursus te ontwikkel in hulle gebied.  Verder is daar moontlikhede in België en Engeland waar hy al reeds mee besig was. In Roemenië is Veritas ook gevestig en wil Marius die leier daar ook bemoedig en help. Dit is geen geheim dat die mense van Europa weer nodig het om terug te keer na ‘n ware verstaan van en liefde vir die Woord van God nie. Veritas is ‘n besondere instrument van die Here, glo ons en sien ons, om belanstellendes te leer hoe om weer waar te maak. Kinderevangelisasie is ook ‘n baie belangrike manier om uit te reik na jou buurt en omgewing en die 2 pas naatloos by mekaar aan. In module 2 les 22 kom dit ook uitgebreid aan die orde!

Dus het ons take oorgedra maar die bediening het groter en meer uitgebreid geword. Bid asseblief vir wysheid vir elke stap op die pad vorentoe. So het hierdie jaar nie alleen baie veranderinge in die samelewing gebring deur middel van COVID 19 nie, maar ook vir ons en in ons manier van werk het daar redelik baie verander! 

Ons wil julle graag ‘n baie Geseënde Kersfees en ‘n Godvrugtige nuwe jaar toewens. Dankie vir u/jou/julle troue betrokkenheid deur gebed en ook finansiële ondersteuning. Die vrug wat die Here op ons werk gee is ook weer die “rente op julle rekening”. Fil 4:17-18.


 Ons is afhanklik van bydraes vir  ons lewensonderhoud. As die Here dit op u hart lê, kan u 'n bydra in die volgende rekening inbetaal: 

Rekening: NKA,  Bank: ABSA,  Rek. nr.: 240 145 995 en vermeld u naam asb.

Tel. nr.: (012) 285 0635 

 E-pos: wilna.smit@mweb.co.za of stormpies@gmail.com