Woensdag 15 Maart 2023

Hoe verder, verlede, hede en toekoms

Beste vriende en familie

Mense vra ons baie keer hoe dit hier met die bediening gaan, hoe dit met ons gaan en of ons nog in Nederland gaan bly of terug kom Suid-Afrika toe. Deur middel van hierdie blog/nuusbrief wil ons terugkyk maar ook vooruit kyk. Hopelik beantwoord ons ‘n paar van die vrae. Sou daar nog vrae wees, vra gerus via die epos adres aan die einde van die blog.

As ons terug kyk na 2022

Baie mense kan seker getuig daarvan dat dit 'n jaar was, waarin baie gebeur het. Ons is dankbaar vir wat die Here gedoen het ten spyte van alles wat ons meegemaak het:

 Januarie 2022

  • Marius kon nog verder gaan met die 7 Veritas kursusse waarmee hy besig was.
  • Ons moes nog met beperkings rekening hou as gevolg van Covid, maar om op Zoom bymekaar te kom, het baie gehelp.
  • Marius het begin met n Afrikaanssprekende module 1 groep - Veritas opleiding met deelnemers uit Suid-Afrika, Nederland en Frankryk.
  • Hy was ook besig met die Verdiepingskursus in kinderevangelisasiewerk wat ‘n belangrike onderdeel is van gemeentebou.

Februarie

  • Oorlog het in Oekraïne uitgebreek. 
  • Ons het vlugtelinge uit Oekraïne ontvang, wat daar vir CEF gewerk het. Dit was goed om saam met die mense te kuier en hulle te bemoedig en saam te eet.
  • Daar was ook 'n besonderse Evangelisasie aksie, waaraan ons gemeente saam gewerk het. Ons het ʼn hele kar vol evangelisasie rugsakkies ingesamel! (Sien foto van al die sakkies in die kar). In elke rugsakkie was verskillende benodighede vir kinders en ook Evangelisasie materiaal. Dit is versprei in Oekraïne.
  • Nadat die beperkings vir COVID opgehef is, kon sekere van die Veritas kursusse weer in persoon gegee word.  Dit het beteken dat Marius weer baie begin reis het en minder is via Zoom gedoen. (Op die foto ontvang 'n module 3 groep in Apeldoorn hulle sertifikate)

Maart tot Junie

  • Op Pinkster Sondag het Amanda 'n noodoperasie gehad wat ons gekeer het om, soos ons eintlike planne was, na Suid-Afrika te kom. (Meer hieroor in die nuus oor die familie)
  • Daar is weer op verskillende plekke in die land les gegee, sowel as skoling by die Bybelskool in Amerongen.
  • Marius het gereeld saam met manne by mekaar gekom om hulle te begelei in dissipelskap.

Julie

  • Ons kon die eerste keer in 3  jaar weer met vakansie gaan. Wat was dit heerlik!

  September tot November

  • September is die begin van die nuwe skooljaar in Europa. Ons kon begin met 80 Bybelskool studente wat Veritas 1 wil volg. Wat ‘n uitdaging!
  • Op 20 November kon ons die Here dankie sê vir Sy sorg en goedheid na 30 jaar lewe en werk in Nederland. Wat ʼn genade! 
  • IKEG het ook begin met 'n nuwe Verdiepingskursus in Kinderevangelisasie. In Veritas is een van die belangrikste aspekte van leierskapsopbou Evangelisasiewerk. Kinderevangelisasie bied 'n besondere moontlikheid vir Marius om te fokus op die Evangelie en hoe mens dit suiwer moet verkondig ook aan kinders.
  • In November is Marius na Australië vir die Veritas wêreld leiers forum. Marius was verteenwoordiger vir die gebied van Europa. Dit was goed en bemoedigend om so as broers en susters saam te kom. Ons uitdaging is GROOT omdat die kerke wêreldwyd besig is om die woord van God te verlaat en op menslike filosofië en die sosiale “wetenskappe” te vertrou. 
  • Hy het ongelukkig daar Covid gekry en moes die laaste 2 dae via Zoom volg. (Sien by familie nuus) (hier is die foto van die leiers en Marius op die skootrekenaar vanwaar hy via Zoom die laaste 2 dae die byeenkoms gevolg het - sommige mense is onherkenbaar gemaak omdat hulle in vyandige gebiede werk.)
  • Hartseer was dit dat een van die broers wat daar was - Gerhard de Coning 'n maand later oorlede is aan kanker wat toe nog nie gediagnoseer/bekend was nie. Dit konfronteer mens met die werklikheid van ons verganklikheid. 

Die toekoms ... Ons vertrou die Here. Hy IS getrou!

  • Mens besef meer as ooit, dat dinge in die wêreld, omstandighede in jou land en/of jou lewe in een oomblik, kan verander. Net soos met die oorlog in Oekraïne, met die aardbewings in Turkye ens. Dus al kyk ons vooruit ... alles is DV - as die Here wil. Ons weet egter dat Hy wat roep getrou is, dit kon ons oor die 30 jaar wat ons hier in Nederland is, sien en ervaar.
  • Marius beplan om eenvoudig verder te gaan met die Bybelonderwys solank hy kan en gesond is. Hierin het Amanda 'n besonderse ondersteunende rol wat dit vir hom moontlik maak.
  • Die studente van 4 verskillende kursusse wat Marius gee, is nou almal op die vlak van module 4. Deur die verloop van hierdie jaar behoort hulle dit te voltooi. Dit was ʼn besondere tyd om so 6 jaar met die mense dit saam te doen. Ons het saam gegroei in volwassenheid.
  • Marius wil graag meer tyd gee aan die leiers wat hy in Veritas begelei, om hulle ook persoonlik te begelei en ook die ander manne wat hy in dissipelskap help. (Op die foto is 'n deel van de Veritasleiers). Dit is die manne wat met die werk verder moet gaan wanneer ons nie meer daar is nie. Onlangs het 4 nuwe fasiliteerders in Module 1 geslaag om dit ook te kan gee. Ook wil 2 in SA dit doen en sal Marius hulle via Zoom begelei.
  • Ons is besig om Veritas, nie as los kursusse te ontwikkel nie, maar om die kursusse meer gemeente gerig te maak. So is Evert Meijer, ‘n jong dominee besig om in sy gemeente die kursus te gee. (30 gemeentelede volg dit daar waarvan 4 kerkraadslede!). Ons glo dat dit 'n besondere invloed in die gemeente gaan hê. Marius is al jare in ons gemeente besig met Veritas, maar nou wil een van die dominees hê dat hy die belydenisklas moet uitnooi om modue1 in September te volg. Bid asseblief hiervoor! Bid ook vir die GPK kerk in Brakpan waar ‘n mooi groep module 1 gevolg het en waarby kerkraadslede ook betrokke was. Ons glo hulle sal ook die vrugte daarvan pluk.
  • Ons sal so graag wil hê dat van die jong manne wat Veritas gee die leiding van Veritas Nederland by Marius sal oorneem, sodat hy meer kan fokus op skoling en dissipelskap. Bid ook asseblief hiervoor!
  • Marius sal baie graag meer tyd wil bestee aan die ontwikkeling van Veritas in Europa. Bid asseblief dat hy hierdie mense sal kan bemoedig en begelei. (In Frankryk, Engeland, Duitsland, Roemenië en Switserland is daar mense wat besig is.  Hulle vra sy ondersteuning en aandag.) Europa en veral ons stamlande, vra aandag en die geestelike nood is groot. Dit is ons spesifieke roeping om die Evangelie terug te neem na hulle toe en dat hulle die Woord van die Here as enigste norm sal aanvaar en nie die Sosiale wetenskappe nie. 
  • 'n Besondere deur wat oopgegaan het is dat Marius onderwysers begelei in die vertelling van Bybellesse in sommige skole. Hiervoor is ons die Here besonder dankbaar! (Dit kom aan die orde in Veritas module 2).

Familie nuus ... ons dank die Here vir Sy getrouheid.

Besoek aan Suid-Afrika 

  • Ons beplan om DV van Mei tot Junie na Suid-Afrika te kom. Daar is 4 Sondae en ons gee hier vir u die program en gemeente optredes. Kom gerus langs wanneer ons daar is.
  • 28 Mei 9:00 oggenddiens - NG kerk Vanderbijlpark Suid 
  • 28 Mei 15:30 middagdiens - Geref Protestante Kerk Brakpan -  Jim Vining laan 19, Minnebron te Brakpan.
  • 4 Junie 09:00 Bonnievale oggenddiens (Kaap)
  • 11 Junie 09:00 Pretoria Oos AP kerk 
  • 18 Junie Kerk sonder Mure (KSM) Pretoria 
    • 08:00 tot 08:10 KSM Midstream erediens terugvoer.
    • 10:00 tot 10:10 KSM Hippolaan erediens terugvoer.

Nog OOP tye?

Daar is nog moontlikhede vir ander optredes! Laat weet as julle geleenthede het vir ons om daar op te tree; byvoorbeeld by 'n middagdiens, aanddiens, of Bybelstudiegroep op Sondag of deur die week.

Laat asseblief gerus weet. 

 Nog familie nuus

Amanda is verlede jaar op Pinkster Sondag met baie pyn opgeneem in die hospitaal en binne ure geopereer a.g.v. 'n maagvlieswand breuk waar haar derm bekneld was. Sy was ‘n week in die hospitaal. Ons is dankbaar dat sy goed herstel het, maar ongelukkig het dit saam bygedra dat ons nie toe na Suid-Afrika kon kom nie. 

Soos hierbo gesê, het ons albei in November Covid gekry. Amanda die aand nadat Marius daardie oggend vertrek het na Australië en Marius 5 dae later in Australië. Gelukkig kon hy die laaste 2 dae met zoom volg. Ons is dankbaar dat ons nie té siek was nie.  

Met Marna en Gerben Jan gaan dit goed onder omstandighede. (Siekte van Crohn by Marna en Gerben Jan wat las het van lang covid.) Toe die blog/brief geskryf is, het albei weer Covid gekry, maar herstel weer. Bid asseblief daarvoor.

Sophie, Lucas en Abigaile is op hoërskool. 'n Hoogtepunt vir ons was toe Abigaile (14) belydenis van haar geloof in die Here Jesus gedoen het as haar Verlosser en gedoop is in hulle Evangeliese kerk.

Estie en Daniël het 'n klein seuntjie as pleegkind gekry. Hy was maar 3 uur oud toe hy in hulle sorg geplaas is. Intussen is daar soveel liefde en sorg aan hom gegee, dat dit baie moeilik sal wees, sou hy terug moet gaan na die biologiese ouers toe. Bid asseblief saam dat die wil van die Here sal geskied. Ons geniet die rol van pleegoupa en pleegouma baie. Ons het hom volkome aangeneem as ons eie kleinkind. Alleen is dit jammer dat hulle so ver van ons woon.

Op 'n Vrydag het ons die afgelope twee en 'n half jaar Levi opgepas, en ons maak ons reg om DV einde April die tweede kleinkind van Johan en Leonie te verwelkom in ons familie. Bid dat die bevalling goed sal verloop vir moeder en kind.

Ons is dankbaar dat dit goed gaan met ons kinders en kleinkinders. Ons geniet van die kontakte met hulle wanneer hulle langs kom en ook ons "kleinkat en kleinhond" wanneer ons hulle sien.



Op 6 Februarie 2022 (laas jaar) was ons 40 jaar getroud. Dit was ‘n ryke ervaring om as hele familie, saam 'n naweek weg te kon gaan, die eerste keer ooit!!! 

( Hierdie foto is die naweek geneem.)

BAIE DANKIE

Ons wil julle/u baie dankie sê vir julle getroue gebed en ondersteuning nou al 30 jaar hier in Nederland. Sonder mense soos u sou ons nie die bediening kon voortsit nie. Wil u asseblief bly bid vir ons en ons bediening hier? Vir almal wat ons ondersteun wil ons net sê dat dit met dankbare harte ontvang word, asof dit direk van die Here afkomstig is. Mag julle/u ryklik geseën word hiervoor! BAIE DANKIE! Ons bly van u betrokkenheid afhankelik!

 

Met hartelike groete en liefde, 

Marius en Amanda Storm

Ons is afhanklik van bydraes vir  ons lewensonderhoud. As die Here dit op u hart lê, kan u 'n bydra in die volgende rekening inbetaal: 

Rekening: NKA,  Bank: ABSA,  Rek. nr.: 240 145 995 en vermeld u naam asb.

Tel. nr.: (012) 285 0635  - +31627402628 (Nederland van Marius)

 E-pos: wilna.smit@mweb.co.za of stormpies@gmail.com

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking