Saterdag 22 Februarie 2014

Ons besoek aan Suid-Afrika is byna afgeloop

Die besoek is byna iets van die verlede. DV vertrek ons terug na Nederland met Lufthanza op Maandag aand 24 Februarie. Hoe gaan mens hierdie besoek kan beskryf anders as baie geseënd. Ons het weer met baie van ons getroue vriende en ondersteuners kontak kon maak en by almal was dit asof ons nog laas week gekuier het. Baie dankie almal. Jammer is net dat die pos staking daarvoor gesorg het dat die meeste nuusbriewe nog nie by die mense uitgekom het nie en dat baie nie geweet het ons is in Suid-Afrika nie. Dus ons program was dus ook nie beskikbaar vir die mense nie. Maar ons glo die Here het 'n doel ook daarmee gehad. Dankie almal vir julle liefde, betrokkenheid  en volgehoue ondersteuning. Ons waardeer dit baie.

Ons het 'n baie besige program gehad en party dae tot 7 afsprake per dag. Beginnende byvoorbeeld met 'n biduur om 5.30 en afsluitend met 'n aand byeenkoms. Dus as u dink ons het lekker kom uitrus ... dit was 'n ontsettende besige tyd, maar heerlik om almal weer te sien en om soos die Nederlanders sê: "Even bij te praten" Ons stap weer in met net so 'n besige program in Nederland in van Donderdag nadat ons Dinsdag geland het.

Bid vir ons en hou hierdie blog dop. Teken ASSEBLIEF in op "VOLG ONS" (links langs hierdie berig) deur u e-pos in te vul en op submid te druk. U ontvang dat 'n epos ter bevestiging waarop u moet reageer deur op die skakel te kliek. Daarna behoort u 'n kennisgeving te kry as ons weer iets plaas met die epos wat u ontvang. So bly u op hoogte en hoef u nie te kom loer of daar iets geskryf is nie.

Die uitdagings is groot en Europa het die evangelie baie nodig. Ons stamland mag nie vergeet word nie. Vergeet nie ons en ons werk nie, ons het dit baie nodig.