Wie is ons?





DIE NKA
(NEDERLANDSE KINDEREVANGELISASIE AKSIE)



Die Nederlandse Kinderevangelisasie Aksie (NKA) bestaan uit gemeentes en individuele gelowiges wat ds. Marius en Amanda Storm se bediening in Nederland ondersteun. Die Storms is in 1992 na Nederland uitgestuur om as direkteurspaar van IKEG buite-kerklike kinders met die evangelie te bereik.

WIE IS IKEG?
IKEG is die Nederlandse tak van CEF (Child Evangelism Fellowship). CEF werk internasionaal in meer as 175 lande met ±2500 voltydse en ±40 000 deeltydse werkers. IKEG werk al langer as 60 jaar in Nederland, het ‘n behoudende geloofsverklaring en verkondig die suiwer Evangelie.

IKEG – DOEL EN WERKSWYSE
Hulle streef om: 
  • Buitekerklike kinders (en hulle gesinne) met die Evangelie te bereik, 
  • Die wat bereik word, te ondersteun sodat hulle geestelik kan groei, 
  • Hulle dan by Bybelgetroue Kerke te laat inskakel. 
  • Lidmate van Bybelgetroue Kerke aan te moedig, toe te rus en te ondersteun om hul evangelisasieroeping – veral onder ongelowige kinders en tieners – te vervul.

IKEG streef na sy doel deur ook self: 
  • “Goeie Nuus” en Kerklike klubs, opelug-byeenkomste, saamtrekke, skoolbyeenkomste en kampe te hou, 
  • Bybelgetroue evangelisasiemateriaal te ontwikkel en te versprei, 
  • Werkers op te lei vir evangelisasiewerk onder kinders en tieners.

HUIDIGE SITUASIE
Marius en Amanda se oorspronklike verantwoordelikheid het onder andere organisatoriese en administratiewe verpligtinge, die bekendstelling van IKEG, opleiding en direkte kinderwerk ingesluit. Die afgelope paar jaar het Marius se bedieningsgerigtheid stelselmatig verander. Hy het hom al hoe meer op toerusting en opleiding toegelê.

Die verandering is deur verskeie faktore teweeg gebring, onder andere die groot behoefte aan nuwe geestelike leiers en werkers. Die deurslaggewende was egter die oortuiging wat in hom gegroei het dat dit die wil van die Here was dat hy sy tyd en energie aan die toerusting van kinderwerkers en ander gelowiges moet wy. Dit is noodsaaklik om ‘n nuwe geslag leiers op ‘n Bybelgetroue en diepsinnige manier toe te rus om weer op hulle beurt die evangelie aan ‘n verloregaande Europa te verkondig. 

Na onderhandelinge en gesprekke met belanghebbendes het die bestuur van IKEG besluit om hom van sy administratiewe verantwoordelikhede as direkteur vry te stel en aan hom toestemming te gee om hom op toerusting en opleiding toe te lê. In die praktyk beteken dit dat hulle bediening huidiglik op twee bene staan
  • Eerstens hanteer hy die opleiding van kinderwerkers en ander gelowiges wat die evangelie aan kinders verkondig. 
  • Tweedens bied hy die “Veritas” kursus  aan.

WIE IS VERITAS?
Veritas het ten doel om gelowiges toe te rus om die Woord van die Here reg te verstaan – om dit reg uit te lê en toe te pas. Hierdie kennis om die Woord van God korrek te verklaar, is op die oomblik ‘n groot behoefte in Nederland omdat kerke en gemeentes al hoe verder van die Waarheid van die Bybel wegbeweeg en al hoe meer onder die invloed van humanisme en sekularisme kom. Die aanbieding van Veritas kan op ‘n Bybelskool, in gemeente verband en in kleiner groepies plaasvind. Omdat die opleiding van Veritas uit verskillende modules bestaan, kan die belangstellendes persoonlike begeleiding ontvang en selfs ‘n diploma of graad vewerf. Dissipelskap staan egter sentraal! Die vestiging van Veritas in Nederland is vir ons ‘n groot uitdaging! 

WIL U NIE BETROKKE RAAK NIE?
Die Bybel leer ons dat gelowiges die voorreg en verantwoordelikheid het om mee te werk aan die verkondiging van die Evangelie. Die gemeente in Filippi het vir ons ‘n navolgingswaardige voorbeeld gestel deur die manier waarop hulle: 
  • Vir Paulus gebid (1:19), 
  • Hom moreel (2:19-30) en 
  • Finansieël (4:15-20) ondersteun het.

Daarom het ons die vrymoedigheid om u te nooi om by die NKA betrokke te raak. Wil u nie asseblief vir die Storms en die aksie voorbidding doen en as dit moontlik is, die bediening in Nederland finansieël ondersteun nie?