Saterdag 13 Desember 2025

HY het die sleutels in SY hand!

Beste familie, vriende en belangstellendes

Dit kook oral in die wêreld. Waarskynlik is dit vir niemand nuwe nuus nie! Daar heers  behoorlik oral chaos. As mens, is ons dankbaar om te weet dat die Here steeds in beheer is! Hallelujah! HY is en bly, HERE. Aan die gemeente in Filadelfia in Openb 3:7ev, sê Hy, dat as Hy ‘n deur oopmaak kan niemand dit sluit nie en as hy dit sluit dan kan niemand dit oop maak. Dit gee ons hoop en standvastigheid. 

Ons merk al hoe meer op, dat Europa ook nog meer afvallig raak en daarom duidelike antichristelike besluite neem. Die hardheid van die mense neem steeds toe. Ons weet dit gaan vir ons hier moeiliker word. Maar besef ook, dat oor die hele wêreld en selfs in SA hierdie goddelose besluitneming toe neem!

Ons vertel kortliks meer oor ons werk, die oop deure en ons dankbaarheid oor mense wat ons so getrou ondersteun die afgelope 33 jaar! Onthou asseblief altyd, dat u en jy, wat agter ons en ons werk staan, deel  word en is, van wat die Here hier doen!

1.      Wat die kinderwerk (IKEG/CEF) betref:

·       Die 12 aande verdiepings kursusse (VCK1) is BAIE geseënd en ons is dankbaar vir die  vrug wat daaruit kom. Ook het ons losse kursusse gegee vir byv, opelug werk in die Somer. (Hier naast lei ons die mense op vir n uitreik in Kerkrade.)

·       Marius het roeër die jaar by die voltydse Gospel Mission Bijbelschool opleiding gegee in Kinderevangelisasiewerk en daar is  ook prakties spanne uitgestuur na kampeerplekke ( 'n Soort standdienskampe). Daar word beplan om weer sulke opleiding en kampe voor die somer 2026 te hou.

·       Daar is  kinderwerk op die Filadelfia Bybelskool gegee op verskillende Saterdae. Marius het die temas – “Wat is die Evangelie, en dwalinge” en “hoe mens dit oordra aan kinders”,  aan meer as 92 studente gegee met geweldige seën. Alle lof aan die Here!

2.      Wat Veritas betref

o   Materiaal:

Marius het die eindredaksie van die nuwe Nederlandse handleidings van Veritas in sy hande. Alle nuwe handleidings is nou voltooi. Ons is so dankbaar daarvoor.

o   Nuwe fasiliteerders en kursusse:

o   Marius het 6 nuwe fasiliteerders (mense wat Veritas sal kan gee) opgelei wat nou Veritas kan gee.

o   Ook begelei hy 2 Teologiese studente in Veritas/Dissipelskap en opleiding as Fasiliteerders. Die honger in hulle om die Woord van God te verstaan en deur te gee is so bemoedigend! Jammer dat die Teologiese Fakulteite min aandag hieraan gee nie.

 

o   Aanbieding van Veritas kursusse:

o   Self gee Marius verskillende Veritas kursusse, Mod 1, 2 en 3. Hy gee via Zoom ook 'n Afrikaanse groep en 'n groep in België en was hy ook een van de kursus
gewers  met 80 studente by die Filadelfia Bijbelskool in Amerongen vroeër die jaar.

o   Marius gee hierdie jaar die onderwerpe: “Die Godheid en Mensheid van die Here Jesus,” “Sy heiligheid en liefde”, by ‘n Voltydse Bybelskool van 19 studente.

o   Europa:

o   Marius is Europese direkteur vir Veritas. (Bennie en Moira Wolfaardt is die hoofleiers vir die wêreld, en hulle woon in Australië. )

o   Marius koördineer dus die leiers in Frankryk, Engeland, Duitsland en Switserland. Wat ‘n bemoediging is dit om maandeliks via Zoom mekaar te ontmoet en veral deur die Woord  bemoedig te word!

o   Duitsland het  vir Veritas op ʼn nuwe manier oopgegaan. Hannes Nortje wat vlot Duits praat (getroud met Helen, wat ʼn Russiese Duitser is) is as  fasiliteerder opgelei. Hy het met 28 kursusgangers begin!!!! Prys die Here vir hierdie deur wat oopgegaan het! (Foto)

o   ‘n Nuwe groep het nou ook in Engeland begin!!! Nic de Jager is die leier daar, na BAIE uitdagings in sy vorige gemeente, maar in sy nuwe gemeente het die deur oopgegaan. Prys die Here!

o   Johan Bloemhof(en Rita) woon en werk nou vanuit Annecy,  Suid van Genève in Frankryk. Hy het nog tyd nodig om in sy nuwe omgewing aan te pas en geken te word. Hy doen al reeds baie werk daar, om ook in sy nuwe gemeente vertroue te wen. Hy hoop ook om met Veritas daar te begin. Bid asb vir hulle!

o   Nic, ons Veritas man, wat in Engeland woon, het mod 1 en 2 gegee in Kososvo in Albanees, via ‘n tolk! Daar is ook iemand geïdentifiseer wat moontlik as fasiliteerder kan optree!!! Gaan die Here die deur ook oopmaak?! Bid asb saam hiervoor.

o   Internasionaal: Maandeliks vergader Marius via Zoom met leiers van Veritas oor die hele wêreld. Wat die Here deur Veritas wêreldwyd doen is ongelooflik en baie bemoedigend! (Gaan kyk gerus op Veritascolege.org) Bid ook vir Bennie en Moira en die span internasionale leiers vir wysheid, trou, vrug op hulle werk en voldoende finansiële ondersteuning om hierdie werk te dra!

INTERESSANTE FEIT. DIE HERE HET NOU 4 SUID-AFRIKANERS IN SLEUTEL POSSIES OOR EUROPA GEROEP VIR VERITAS: NEDERLAND, ENGELAND, FRANKRYK EN DUITSLAND. DIE PERSOON WAT IN SWITZERLAND WIL BEGIN IS IN SA DEUR TERTIA KELLERMAN OPGELEI.

3. Dissipelskap

Marius begelei en bemoedig verskillende manne persoonlik met dissipelskap vroeg in die oggend op verskillende tye.

Dit bly gedurig  ʼn uitdaging  om almal persoonlik te ontmoet en te begelei. Dit is ‘n GROOT gebedspunt asb.

 

4. Uitdagings vir die toekoms:

1.      Meer leiers is nodig, wat veritas en kinderwerk kan doen en gee – ons sien die Europese mense raak te besig om hierdie verantwoordelikheid op hulle te neem. Dit is ‘n groot uitdaging. Dit is ook by ons vorige Fasiliteerders byeenkoms in Nederland bespreek. 30 persone kan die modules gee, maar op die oomblik is 10-15 daarmee besig. Bid dat meer mense die roeping ervaar om dit daadwerklik ook weer deur te gee.

2.      Gebed vir Mat 6:33 Christene is so nodig. Dit bly die grootse behoefte in die eerste wêreld.

3.      Marius sal graag meer werkers in Nederland wil bemoedig maar het self baie min tyd hiervoor. Sy dag begin meeste van die tyd 5.30-6.00 met stiltetyd en dan het hy baie oggende al 7.00 sy eerste dissipelskap ontmoeting. Hy kom dan ook baie aande na 22.30  tuis van opleiding. Bid vir krag en energie en dat hy die tyd kry ook vir sy oefeninge en om  fiets te ry.

5.    Dankpunte is om:

·        Te sien hoe die persoonlike begeleiding in Dissipelskap mense verder help en laat groei. Hier staan ons verbaas oor hoe die Here hierdie mense na ons toe lei en hoe ons iets in hulle lewens kan beteken. Dit bevestig dat mens 100% afhanklik is van God. (Sonder Hom kan mens niks doen nie. Hy moet die deur oopsluit en deur Sy Gees werk in mense se harte! ). Daar is geen manier dat mens dit met beplanning uit kan werk nie, die Here bring die mense na ons.  Bid hiervoor en vir die krag en wysheid vir ons.

·        Hoe die werk in Breda ontwikkel en nie-gelowiges bereik word. Die mense wat daar betrokke is, kon Marius begelei d.m.v. Veritas en IKEG opleiding. Besonder is dit om te sien dat die beginsels wat hulle geleer is, toegepas word en dat dit nou vrug begin dra maar met BAIE stryd en aanvalle!  

·        Gijsbert en Jenneke Wolvers was in die jare 90 bestuurslede van IKEG en van die tyd baie betrokke by ons en het self kinderwerk gedoen. Ongelooflik is dit dat die Here hulle geroep het om op hulle ouderdom na Albanië te gaan vir kinderwerk. Prys die Here (Hulle is ongeveer 60 jaar oud!)

·        Dat die Here nou reeds byna 33 jaar ons werk in Nederland in stand hou, uitbrei en seën.

·        Finansieel sorg Hy nog steeds vir ons danksy kerke en gelowiges soos julle. Dankbaarheid oorheers in ons harte! Die Here voorsien elke maand nog wat nodig is. Hy is GETROU!!

·        Ons kan saam met Paulus getuig wat hy in Fil 4:10-13 skryf. “Ons kan alles hanteer(is tot alles in staat), deur die Here wat ons die krag gee.”

Ons wens julle almal ‘n baie Geseënde Christusfees toe, waarin ons dink aan die wonderwerk dat God mens geword het (Immanuel) en onder ons kom woon het.

Ons bid ook dat die Here 2026 ‘n Godvrugtige jaar sal maak met die wete dat HY alles in Sy hand vashou, ook ons lewens.


Met baie dankbare liefde

Marius en Amanda Storm





Ons is afhanklik van bydraes vir  ons lewensonderhoud. As die Here dit op u hart lê, kan u 'n bydra in die volgende rekening inbetaal:
 

Rekening: NKA,  Bank: ABSA,  Rek. nr.: 240 145 995 en vermeld u naam asb.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking