Donderdag 14 Desember 2023

'n Wereld in chaos, maar die Evangelie gaan verder!

Beste familie, vriende en betrokkenes 

Wat 'n moeilike jaar het die wêreld gehad met oorloë, geweld, armoede en baie moeilike situasies vir baie mense. Die gevolge is vir ons hier merkbaar in Europa, Oekraïne en Israel, maar ons besef dat in Suid-Afrika dit ook nie anders is nie. Mens kan eintlik sê elke land het sy ‘kruis’. Dit het invloed op elke gelowige. Ons dink dat die woorde van Paulus in Fil 4:10-13 op ons almal toegepas kan word. Hy sê in die gedeelte dat hy moeilike en slegte tye beleef het maar ook goeie en tye van oorvloed beleef het. MAAR hy is tot alles in staat, (hy kan alles hanteer) deur die Here wat hom die krag gee. Dit is inderdaad wat by ons opkom
wanneer ons terug kyk na die afgelope jaar en sal beslis ook nodig wees as ons vooruit gaan kyk.

Ons kyk dus eers terug.

Ons dank die Here vir Sy sorg en seën op die werk wat hier gedoen kon word. Dit was nie altyd maklik nie maar die Here het ons krag gegee om dit te kon hanteer. Ons bly nog altyd diep dankbaar dat Hy ons nog hier gebruik en ons roeping bevestig. Die uitdagings is baie groot en die atmosfeer in Europa word meer en meer vyandig vir ons as Christene. Dit is iets wat sigbaar is in die hele wêreld. Polities kook dit hier, soos julle weet dat Nederland in die afgelope verkiesings ‘n behoorlike swaai na regs gemaak het en dat Geert Wilders se "ver regse party" by verre die grootste geword het. Hy het nie ‘n algehele meerderheid nie, maar dit is verdrietig hoe mense hulle hoop op die politiek ens. plaas en nie op die Here nie. Ons besef ook dat 2024 weer ‘n verkiesingsjaar is, maar ons moet ook daar onthou dat ongeag die uitslag die Here die Here bly!


Ons grootste sorg en gebedspunt is dat ons sien dat Christene afvallig raak van die Woord van God en n ander Evangelie begin aanhang. (2 Kor 11:4) Bid vir Nederland en Europa (ons stam-kontinent wat al hoe verder van die Here afdwaal), dat Hy ‘n herlewing sal gee en dat ons ‘n klein en beskeie steentjie kan bydra in Sy groot plan wat hy besig is om uit te voer. Die herfstyd, wat net verby is en die wintertyd wat tot einde Maart 2024 duur, is in Europa ‘n besigste tyd om die Woord te saai en onderwys te gee.

Dank punte:


1. Ons is dankbaar vir die oop deure wat die Here gegee het en dit is altyd verrassend om te sien hoe Hy sy doel bereik ondanks ons planne. Die mens wik en weeg maar die Here beskik en soms so anders werk as wat ons verwag het.

'n Groep van ons Veritasleiers en bestuurslede
2. Beantwoorde gebed is dat Marius die voorsitterskap van Veritas kon oordra aan ‘n hele nuwe bestuur en voorsitter. Ds. Evert Meijer is die nuwe voorsitter (self ‘n student wat Veritas gevolg het) en Magreet Mulder is nou sekretaresse op die bestuur, (nadat sy Mod 4 in Apeldoorn met sukses voltooi het), en Reinier Bos is die penningmeester – ook ‘n fasiliteerder en oud student! Hulle is jong gemotiveerde mense met nuwe planne! Marius bly betrokke net soos met Marco Baan, wat die direkteurskap van IKEG oorgeneem het. Dit gee groot dankbaarheid dat daar bekwame mense in sleutel plekke benoem kon word.

3. Na 6 jaar het daar twee verskillende groepe, al vier die modules voltooi!! Spesifiek die een groep met hegte interpersoonlike verhoudings in Apeldoorn (wat gewoonlik na 6 jaar Veritas normaal is), het maar swaar afskeid van mekaar geneem by die laaste ete, waar een van ons plaaslike dominees ook by was en ons vir hulle Bobotie en SA geregte bedien het! Elmarie Strydom (‘n module 2 student wat die Zoom kursus in Afrikaans volg) het dit vir ons voorberei. Uit een van die module 4 groepe het nou ‘n vroue groep ontstaan en hulle gaan op die Veritas manier Bybelboeke deurwerk!

5. By die Bybelskool in Amerongen, het 70 van die 90 studente Module 1, voltooi. Die getalle is nie die belangrikste nie, maar die veranderde lewens en liefde vir die Woord van God is bemoedigend!!!

6. Dankbaarheid heers ook vir die Europese Veritas werk wat in Engeland, Roemenië, Switserland en Frankryk gedoen word deur bekwame en veral toegewyde leiers! Ons maandelikse kontak via Zoom, is kosbaar. Dit was ook ‘n voorreg om gedurende die somervakansie die jong Switserse Veritas leier persoonlik te ontmoet, saam met sy Suid-Afrikaanse vrou en baba.

7. Ook die manne wat Marius persoonlik begelei in dissipelskap is ‘n groot bron van dankbaarheid en om te sien hoe hulle groei. Maar dit kos baie tyd en energie! (Tog is hy besorgd oor die tendens in die kerk waar alles groot en massief moet wees en dat mens nie meer 'n oog vir die enkelinge het nie).

8. ‘n Deur het oopgegaan in België om die “Verdiepingskursus Kinderevangelisasie” te gee. Hiervoor is daar lank gehoop en gebid. Bid saam dat Veritas ook daar gegee mag word. (Sien hier onder)

Die Bybelskool studente in België
9. Ons het ook die moontlikheid gekry om in België by ʼn Bybelskool les te gee in Kinderwerk. Dit het reeds ander deure oopgemaak! (Ek sou nie kon droom – dat ondanks ons planne God so sou werk nie)

10. Marius het ook les by die voltydse Hebron Bybelskool aan 19 studente oor verskillende onderwerpe gegee.


Ons kyk biddend vooruit:


1. Ons fokus is op in standhouding van die werk en om deure wat reeds oopgegaan het verder te benut. Sowel as om in persoonlike verhoudings in te bou. Meer tyd is daar nie op die oomblik vir te veel nuwe inisiatiewe nie. (Soveel nuwe “paddastoele” in geestelike werk word orals begin, maar die uitdaging is of mense dit wat hulle begin het, vol kan hou. Ons sien ongelukkig baie keer dat vinnige werk sonder diepte ontaard in bedienings waar mens vraagtekens by kan plaas vir die toekoms)

2. Op nog meer verskillende plekke in Nederland is ons besig om leiers en belangstellendes op te lei, vir Veritas en ook vir IKEG.

a. IKEG:
Luis (regs) en die res van die kursus ganger in België


i. Op Maandae gee Marius die Verdiepingskursus (VCK) van IKEG (1 en 2), vir 4 groepe. Dit gebeur gedeeltelik via Internet (Zoom), maar ook in persoon voor die klas. Die opleiding hou aan tot DV Julie 2024. (30 kursusgangers volg die lesse). In België gee ons die VCK kursus op 6 Saterdae oor die jaar gesprei. Hy bid baie vir Luis (jongman uit Kuba wat soveel potensiaal het om in die toekoms Veritas ook te kan gee, juis in België of verder in Kuba?! Dit is ongelooflik hoe die kinderwerk en Veritas mekaar voed en nuwe leiers in die versier bring!)

ii. Ons is baie opgewonde oor al die Kersklubs (Des. 2023) en later die Paasklubs (2024) wat op verskillende plekke in Nederland en België deur IKEG werkers en Veritas kursusgangers gehou gaan word. Baie buite kerklike kinders hoor op so ‘n manier die ware Evangelie! Kinderwerk is deel van module 2 van Veritas en so begin baie mense hulle eerste evangelisasie stappe. Ons gee ook d.m.v. kaarte en ʼn klein geskenkie, die boodskap deur aan ons omgewing. Bid asb vir ryke seën op hierdie uitreik geleenthede!


Module 4 Apeldoorn sertifikaat uitreiking

b. Bid ook vir Veritas:


1, Marius gee Mod 2 in persoon in ons Nederlandse gemeente hier in Apeldoorn. En ook ‘n nuwe groep wat kort gelede met Mod. 1 in ons gemeente begin het. Daar was ‘n ongelooflike stryd om dit te begin, maar die seën is nou besonder!!! Selfs ons een dominee skakel in wanneer hy kan! Daar is ook ʼn Veritas Mod 4 groep in ons gemeente wat een keer per maand bymekaar kom en hoop om aan die einde van Junie 2024, na 10 jaar, die kursus af te rond. Al die ander kursusse is elke 2 weke.


2. Veritas Mod 2 in Afrikaans via zoom is ook ‘n bemoediging en ons leer baie van mekaar.

3,  Mod 4 vir drie verskillende groepe, wat in persoon gegee word, op verskillende plekke in Nederland - Geldermalsen, Apeldoorn en Amerongen.

4. Bid vir Marius asb vir veiligheid, omdat hy baie oppad is, vir energie en dat hy naby die Here sal bly ten spyte van sy besige program.

5. Bid vir die uitbreiding van Veritas in Nederland, Europa en ook vir die leiers van Veritas internasionaal, vir seën en wysheid. Ook vir die nodige finansiële ondersteuning om die werk verder uit te brei.

6. Dank die Here dat Veritas nou akkreditasie ontvang het om nou ook Dmin (Doktorale) grade toe te ken!

7. Bid vir Amanda terwyl sy kontak hou met ondersteuners en betrokkenes by ons en ons werk. Ook vir die baie aande wat sy alleen tuis is.

7. Baie dankie vir julle voorbidding en betrokkenheid by ons en ons werk. Dit is vir ons van onskatbare waarde!

Geseënde Kersfees en ‘n mooi Somer vakansie wens ons julle toe. Ry asb veilig!

"Hartelijke Groeten" van uit Nederland,

Marius en Amanda Storm.




Woensdag 15 Maart 2023

Hoe verder, verlede, hede en toekoms

Beste vriende en familie

Mense vra ons baie keer hoe dit hier met die bediening gaan, hoe dit met ons gaan en of ons nog in Nederland gaan bly of terug kom Suid-Afrika toe. Deur middel van hierdie blog/nuusbrief wil ons terugkyk maar ook vooruit kyk. Hopelik beantwoord ons ‘n paar van die vrae. Sou daar nog vrae wees, vra gerus via die epos adres aan die einde van die blog.

As ons terug kyk na 2022

Baie mense kan seker getuig daarvan dat dit 'n jaar was, waarin baie gebeur het. Ons is dankbaar vir wat die Here gedoen het ten spyte van alles wat ons meegemaak het:

 Januarie 2022

  • Marius kon nog verder gaan met die 7 Veritas kursusse waarmee hy besig was.
  • Ons moes nog met beperkings rekening hou as gevolg van Covid, maar om op Zoom bymekaar te kom, het baie gehelp.
  • Marius het begin met n Afrikaanssprekende module 1 groep - Veritas opleiding met deelnemers uit Suid-Afrika, Nederland en Frankryk.
  • Hy was ook besig met die Verdiepingskursus in kinderevangelisasiewerk wat ‘n belangrike onderdeel is van gemeentebou.

Februarie

  • Oorlog het in Oekraïne uitgebreek. 
  • Ons het vlugtelinge uit Oekraïne ontvang, wat daar vir CEF gewerk het. Dit was goed om saam met die mense te kuier en hulle te bemoedig en saam te eet.
  • Daar was ook 'n besonderse Evangelisasie aksie, waaraan ons gemeente saam gewerk het. Ons het ʼn hele kar vol evangelisasie rugsakkies ingesamel! (Sien foto van al die sakkies in die kar). In elke rugsakkie was verskillende benodighede vir kinders en ook Evangelisasie materiaal. Dit is versprei in Oekraïne.
  • Nadat die beperkings vir COVID opgehef is, kon sekere van die Veritas kursusse weer in persoon gegee word.  Dit het beteken dat Marius weer baie begin reis het en minder is via Zoom gedoen. (Op die foto ontvang 'n module 3 groep in Apeldoorn hulle sertifikate)

Maart tot Junie

  • Op Pinkster Sondag het Amanda 'n noodoperasie gehad wat ons gekeer het om, soos ons eintlike planne was, na Suid-Afrika te kom. (Meer hieroor in die nuus oor die familie)
  • Daar is weer op verskillende plekke in die land les gegee, sowel as skoling by die Bybelskool in Amerongen.
  • Marius het gereeld saam met manne by mekaar gekom om hulle te begelei in dissipelskap.

Julie

  • Ons kon die eerste keer in 3  jaar weer met vakansie gaan. Wat was dit heerlik!

  September tot November

  • September is die begin van die nuwe skooljaar in Europa. Ons kon begin met 80 Bybelskool studente wat Veritas 1 wil volg. Wat ‘n uitdaging!
  • Op 20 November kon ons die Here dankie sê vir Sy sorg en goedheid na 30 jaar lewe en werk in Nederland. Wat ʼn genade! 
  • IKEG het ook begin met 'n nuwe Verdiepingskursus in Kinderevangelisasie. In Veritas is een van die belangrikste aspekte van leierskapsopbou Evangelisasiewerk. Kinderevangelisasie bied 'n besondere moontlikheid vir Marius om te fokus op die Evangelie en hoe mens dit suiwer moet verkondig ook aan kinders.
  • In November is Marius na Australië vir die Veritas wêreld leiers forum. Marius was verteenwoordiger vir die gebied van Europa. Dit was goed en bemoedigend om so as broers en susters saam te kom. Ons uitdaging is GROOT omdat die kerke wêreldwyd besig is om die woord van God te verlaat en op menslike filosofië en die sosiale “wetenskappe” te vertrou. 
  • Hy het ongelukkig daar Covid gekry en moes die laaste 2 dae via Zoom volg. (Sien by familie nuus) (hier is die foto van die leiers en Marius op die skootrekenaar vanwaar hy via Zoom die laaste 2 dae die byeenkoms gevolg het - sommige mense is onherkenbaar gemaak omdat hulle in vyandige gebiede werk.)
  • Hartseer was dit dat een van die broers wat daar was - Gerhard de Coning 'n maand later oorlede is aan kanker wat toe nog nie gediagnoseer/bekend was nie. Dit konfronteer mens met die werklikheid van ons verganklikheid. 

Die toekoms ... Ons vertrou die Here. Hy IS getrou!

  • Mens besef meer as ooit, dat dinge in die wêreld, omstandighede in jou land en/of jou lewe in een oomblik, kan verander. Net soos met die oorlog in Oekraïne, met die aardbewings in Turkye ens. Dus al kyk ons vooruit ... alles is DV - as die Here wil. Ons weet egter dat Hy wat roep getrou is, dit kon ons oor die 30 jaar wat ons hier in Nederland is, sien en ervaar.
  • Marius beplan om eenvoudig verder te gaan met die Bybelonderwys solank hy kan en gesond is. Hierin het Amanda 'n besonderse ondersteunende rol wat dit vir hom moontlik maak.
  • Die studente van 4 verskillende kursusse wat Marius gee, is nou almal op die vlak van module 4. Deur die verloop van hierdie jaar behoort hulle dit te voltooi. Dit was ʼn besondere tyd om so 6 jaar met die mense dit saam te doen. Ons het saam gegroei in volwassenheid.
  • Marius wil graag meer tyd gee aan die leiers wat hy in Veritas begelei, om hulle ook persoonlik te begelei en ook die ander manne wat hy in dissipelskap help. (Op die foto is 'n deel van de Veritasleiers). Dit is die manne wat met die werk verder moet gaan wanneer ons nie meer daar is nie. Onlangs het 4 nuwe fasiliteerders in Module 1 geslaag om dit ook te kan gee. Ook wil 2 in SA dit doen en sal Marius hulle via Zoom begelei.
  • Ons is besig om Veritas, nie as los kursusse te ontwikkel nie, maar om die kursusse meer gemeente gerig te maak. So is Evert Meijer, ‘n jong dominee besig om in sy gemeente die kursus te gee. (30 gemeentelede volg dit daar waarvan 4 kerkraadslede!). Ons glo dat dit 'n besondere invloed in die gemeente gaan hê. Marius is al jare in ons gemeente besig met Veritas, maar nou wil een van die dominees hê dat hy die belydenisklas moet uitnooi om modue1 in September te volg. Bid asseblief hiervoor! Bid ook vir die GPK kerk in Brakpan waar ‘n mooi groep module 1 gevolg het en waarby kerkraadslede ook betrokke was. Ons glo hulle sal ook die vrugte daarvan pluk.
  • Ons sal so graag wil hê dat van die jong manne wat Veritas gee die leiding van Veritas Nederland by Marius sal oorneem, sodat hy meer kan fokus op skoling en dissipelskap. Bid ook asseblief hiervoor!
  • Marius sal baie graag meer tyd wil bestee aan die ontwikkeling van Veritas in Europa. Bid asseblief dat hy hierdie mense sal kan bemoedig en begelei. (In Frankryk, Engeland, Duitsland, Roemenië en Switserland is daar mense wat besig is.  Hulle vra sy ondersteuning en aandag.) Europa en veral ons stamlande, vra aandag en die geestelike nood is groot. Dit is ons spesifieke roeping om die Evangelie terug te neem na hulle toe en dat hulle die Woord van die Here as enigste norm sal aanvaar en nie die Sosiale wetenskappe nie. 
  • 'n Besondere deur wat oopgegaan het is dat Marius onderwysers begelei in die vertelling van Bybellesse in sommige skole. Hiervoor is ons die Here besonder dankbaar! (Dit kom aan die orde in Veritas module 2).

Familie nuus ... ons dank die Here vir Sy getrouheid.

Besoek aan Suid-Afrika 

  • Ons beplan om DV van Mei tot Junie na Suid-Afrika te kom. Daar is 4 Sondae en ons gee hier vir u die program en gemeente optredes. Kom gerus langs wanneer ons daar is.
  • 28 Mei 9:00 oggenddiens - NG kerk Vanderbijlpark Suid 
  • 28 Mei 15:30 middagdiens - Geref Protestante Kerk Brakpan -  Jim Vining laan 19, Minnebron te Brakpan.
  • 4 Junie 09:00 Bonnievale oggenddiens (Kaap)
  • 11 Junie 09:00 Pretoria Oos AP kerk 
  • 18 Junie Kerk sonder Mure (KSM) Pretoria 
    • 08:00 tot 08:10 KSM Midstream erediens terugvoer.
    • 10:00 tot 10:10 KSM Hippolaan erediens terugvoer.

Nog OOP tye?

Daar is nog moontlikhede vir ander optredes! Laat weet as julle geleenthede het vir ons om daar op te tree; byvoorbeeld by 'n middagdiens, aanddiens, of Bybelstudiegroep op Sondag of deur die week.

Laat asseblief gerus weet. 

 Nog familie nuus

Amanda is verlede jaar op Pinkster Sondag met baie pyn opgeneem in die hospitaal en binne ure geopereer a.g.v. 'n maagvlieswand breuk waar haar derm bekneld was. Sy was ‘n week in die hospitaal. Ons is dankbaar dat sy goed herstel het, maar ongelukkig het dit saam bygedra dat ons nie toe na Suid-Afrika kon kom nie. 

Soos hierbo gesê, het ons albei in November Covid gekry. Amanda die aand nadat Marius daardie oggend vertrek het na Australië en Marius 5 dae later in Australië. Gelukkig kon hy die laaste 2 dae met zoom volg. Ons is dankbaar dat ons nie té siek was nie.  

Met Marna en Gerben Jan gaan dit goed onder omstandighede. (Siekte van Crohn by Marna en Gerben Jan wat las het van lang covid.) Toe die blog/brief geskryf is, het albei weer Covid gekry, maar herstel weer. Bid asseblief daarvoor.

Sophie, Lucas en Abigaile is op hoërskool. 'n Hoogtepunt vir ons was toe Abigaile (14) belydenis van haar geloof in die Here Jesus gedoen het as haar Verlosser en gedoop is in hulle Evangeliese kerk.

Estie en Daniël het 'n klein seuntjie as pleegkind gekry. Hy was maar 3 uur oud toe hy in hulle sorg geplaas is. Intussen is daar soveel liefde en sorg aan hom gegee, dat dit baie moeilik sal wees, sou hy terug moet gaan na die biologiese ouers toe. Bid asseblief saam dat die wil van die Here sal geskied. Ons geniet die rol van pleegoupa en pleegouma baie. Ons het hom volkome aangeneem as ons eie kleinkind. Alleen is dit jammer dat hulle so ver van ons woon.

Op 'n Vrydag het ons die afgelope twee en 'n half jaar Levi opgepas, en ons maak ons reg om DV einde April die tweede kleinkind van Johan en Leonie te verwelkom in ons familie. Bid dat die bevalling goed sal verloop vir moeder en kind.

Ons is dankbaar dat dit goed gaan met ons kinders en kleinkinders. Ons geniet van die kontakte met hulle wanneer hulle langs kom en ook ons "kleinkat en kleinhond" wanneer ons hulle sien.



Op 6 Februarie 2022 (laas jaar) was ons 40 jaar getroud. Dit was ‘n ryke ervaring om as hele familie, saam 'n naweek weg te kon gaan, die eerste keer ooit!!! 

( Hierdie foto is die naweek geneem.)

BAIE DANKIE

Ons wil julle/u baie dankie sê vir julle getroue gebed en ondersteuning nou al 30 jaar hier in Nederland. Sonder mense soos u sou ons nie die bediening kon voortsit nie. Wil u asseblief bly bid vir ons en ons bediening hier? Vir almal wat ons ondersteun wil ons net sê dat dit met dankbare harte ontvang word, asof dit direk van die Here afkomstig is. Mag julle/u ryklik geseën word hiervoor! BAIE DANKIE! Ons bly van u betrokkenheid afhankelik!

 

Met hartelike groete en liefde, 

Marius en Amanda Storm

Ons is afhanklik van bydraes vir  ons lewensonderhoud. As die Here dit op u hart lê, kan u 'n bydra in die volgende rekening inbetaal: 

Rekening: NKA,  Bank: ABSA,  Rek. nr.: 240 145 995 en vermeld u naam asb.

Tel. nr.: (012) 285 0635  - +31627402628 (Nederland van Marius)

 E-pos: wilna.smit@mweb.co.za of stormpies@gmail.com

Donderdag 02 Desember 2021

Covid19 kon nie die deure toe maak nie!

Liewe familie en vriende

Wat 'n moeilike jaar was dit nie vir baie van ons nie?! Lande was gegrendel en mens moes ook  maar roei met die roeispane wat mens gehad het. En nou word   Suid-Afrika weer gesien as ‘n rooi land en kan niemand uit Europa daarheen of terug nie. Een ding is seker - ons het geleer dat die Here nie onkant gevang word deur hierdie hele situasie nie. Hy bly in beheer! Ons is baie dankbaar dat die bediening nie verhinder was hierdeur nie. Ons kon gewoon aangaan, soms sonder beperkings, soms met Zoom en wat die kinderwerk betref kon Marius se skoling eenvoudig aangaan. 


Dankbaar is ons vir die leierskap van Marco en José Baan wat laas jaar by ons by IKEG, as direkteursegpaar oorgeneem het. Marius gee nog skoling by verskillende groepe en skole. Maar hy het sy hande veral vol met Veritas opleidings en die verantwoordelikheid hiervoor in Europa. Daar is nou mense wat opleiding gee in Frankryk (Johan Bloemhof en ‘n span daar), Roemenië, en Engeland. (Die leiers is hier op die foto, in n zoom gesprek met Marius). Ook is iemand besig om in België in Engels die Veritas kursus te gee - hy in Engels en die mense het ‘n Arabiese handleiding voor hulle omdat hulle uit Irak kom. Die leiers is besonder entoesiasties en dit is elke keer n groot bemoediging om so bymekaar te kom.

Ons is ook baie opgewonde oor 'n nuwe uitdaging en dit is dat Marius DV via Zoom vir Afrikaanssprekende mense,  Veritas module 1 wil gee vanaf Januarie 2022. Mense van oor die hele wêreld mag inskakel! (ZA tyd om 19.00 tot 21.00). Dit gaan op Woensdagaande wees ongeveer elke 2e week. Het jy belangstelling daarin? Laat ons so gou as moontlik weet, deur n E-pos te stuur met die volgende in die onderwerp: “Veritas1ZA2022” na marius@veritascollege.org


Hartseer nuus is dat Barbera Nooitgadagt wat jare lank ons gehelp het in ons klub aan huis, met vertaal en korreksiewerk, in Februarie aan alvleisklier kanker oorlede is. Dit het baie vinnig gegaan en ons kon goeie gesprekke met haar gehad het. Wat besonder is, is dat nadat sy oorlede is, het haar familie ons gekontak om te vertel dat hulle ‘n briefie in die kombuis gekry het waarop sy geskryf het… “Marius kan my elektriese fiets kry”. Dis 'n besondere duur geskenk en iets wat mens altyd aan haar sal laat terug dink, met groot dankbaarheid.

Familie nuus: 

Ons het beide, in Oktober Covid19 gehad. Ons het soms besoek op afstand gehad. Leonie
en ander het gereeld inkopies vir ons gedoen en die sak by die voordeur gelaat. Op die foto het Daniël en Estie kom inloer. Soms het dit gelei tot heel wat spanning, wanneer die suurstof gehalte in Marius se bloed gedaal het, maar die Here was goed vir ons. Ons glo Hy het ons hierop voorberei deur van Junie af, 'n ander eetpatroon te laat volg - 
FireDiabetes.com. Ons het albei behoorlik gewig verloor en ons eet heerlik. Hulle het ook sekere voorskrifte vir wanneer mens Covid19 sou kry. Ons het dit gevolg en dit beteken o.a. dat mens vir die eerste 24 uur moet vas, en daarna nie enige koolhidrate en suikers mag eet nie. Virusse leef op die laasgenoemde twee produkte. Ons is baie dankbaar, want ons glo die Here het ons dit laat volg en ons glo dit het gehelp om ons deur Covid19 te kry. Ons besef ook dat daar mense is – ook familielede en vriende wat dit nie oorleef het nie en dit konfronteer ons ook met die moeilike vrae waarom ons wel? Dit is alleen die genade van die Here wat ons gespaar het, want Hy het blykbaar nog ʼn taak hier vir ons. (Sien hier onder)

Met Marna, Gerben Jan en kinders gaan dit ook goed en ons vind dit heerlik as Abigaile, Sophie, Lucas en David by ons kom inloer. Die drie oudstes is tieners met ouderdomme tussen 13 en 15 jaar en David is nou 8 jaar. Elkeen het natuurlik hulle eie belangstellings en beleef hulle eie interessante dinge op hulle persoonlike gebied.

Estie en Daniël ervaar sommer baie uitdagings in die gemeente, net suid van Rotterdam, waar hulle nou al twee jaar predikantsegpaar is. Ons sien hulle en liewe Igor, die kat, net veels té min (a.g.v. afstande en ook Covid19 beperkings). Wanneer ons hulle wel sien dan is dit byna ’n reünie!

Met Johan en Leonie gaan dit ook goed. Hulle is betrokke op verskillende terreine in die lewe en geniet baie van klein Levi. (14 maande) Ons kyk elke Vrydag na hom, wanneer hulle werk. Dit is n groot voorreg om dit te kan doen, al is die program elke week steeds baie vol.

Ons is so dankbaar dat ons kinders en aangetroudes, die Here wil volg en Hom wil dien in 'n moeilike samelewing wat al hoe meer teen die Christene keer. (Is dit nie wat die Here Jesus bedoel het dat aan die einde van die tye, alle volke julle sal haat  as gevolg van Sy Naam nie (Mat 24:9). Ons sien dit wêreldwyd nou gebeur en in alle lande!)

In ‘n vorige paragraaf oor Covid19 het ons  gesê die Here het blykbaar nog 'n taak vir ons hier. Hierdie taak bly 'n groot uitdaging, want die afvalligheid in die kerke, die toename van vrysinnigheid, die afwatering van die Evangelie en die hardheid in die samelewing neem angswekkend toe hier in Europa, maar ons saai getrou die saad en ons hoor van vrug onder die kinderwerkers en die seën op die skoling vir IKEG en Veritas! Dit is 'n ongelooflike bemoediging! En mag dit ook so ’n bemoediging wees vir elkeen van u wat ook op watter manier ook by ons en ons werk betrokke is. Maak die Here se naam groot, want dit is HY en nie ons of die span werkers nie! Hier sien u die opleiers van Veritas in Nederland, 7 kon nie bij een van die 2 byeenkomste wees nie. 

Ongelukkig neem die geestelike verval ook in Suid-Afrika toe. Ons lees ook dat daar al byna 90 gemeentes uit die NG kerk gedoleer het, omdat hulle nie meer die rigting,  onbybelse standpunte en opleiding in die kerk wil aanvaar nie. (dit is iets wat hier in Nederland in 1886 ook al gebeur het en waar gemeentes nie meer die Sinode finansieel steun nie en hulle distansieer van onbybelse besluite.) Lees meer hieroor wat in SA gebeur op www.kairosnetwerk.net as julle meer wil weet.)

Ons wil julle almal wat ons so getrou ondersteun in gebed en met bydraes bedank vir julle volgehoue steun en betrokkenheid. Ons het gehoop dat ons weer 'n geleentheid sal kan kry om Suid-Afrika toe te kom en te kom kuier, maar nou met hierdie nuwe Covid19 variant.... Word beplanning om te reis al hoe moeiliker en grense gaan toe. Dit bly te onseker hoe dinge verder gaan ontwikkel. Bid asb. Saam met ons dat die Here die pad sal aanwys vir die toekoms en wanneer dit die regte tyd sal wees om tog op besoek te kom.

Ons glo vas dat die Here groter is, as al die omstandighede om ons. HY is en bly ons enigste hoop. Daarvoor het Hy Sy Seun na die aarde gestuur: Om ons te red!  Hy is die enigste hoop vir hierdie wêreld.

Ons wens julle ‘n baie geseënde Kersfees en ’n hoopvolle en gesonde nuwe jaar toe. 

Met baie liefde

Marius en Amanda uit Nederland

  Ons is afhanklik van bydraes vir  ons lewensonderhoud. As die Here dit op u hart lê, kan u 'n bydra in die volgende rekening inbetaal: Rekening: NKA,  Bank: ABSA,  Rek. nr.: 240 145 995 en vermeld u naam asb.

Tel. nr.: (012) 285 0635 

 E-pos: wilna.smit@mweb.co.za of stormpies@gmail.com

 

Woensdag 02 Desember 2020

Nuwe leiers maar ook nuwe moontlikhede vir ons!

Op 1 September het ons ‘n groot mylpaal bereik in ons bediening. Ons het al jare in ons nuusbriewe genoem en voorbidding gevra, dat ons so graag meer wil fokus op Bybelonderwys en skoling vir kinderwerkers, Bijbelskole en vir die Veritas Bybel leierskapskursus. Ons glo dit is waar die Here ons nou wil gebruik. Leiers moet opgelei word, om  die werk wat ons nou al deur Sy genade, 28 jaar in Nederland doen, verder te kan dra. Ons glo dit is waar die Here ons wil gebruik en waar Hy meer vrug en seën gee. En in die proses, staan ons verstom om te sien hoe die Here die deure oopmaak.

Om direkteur van IKEG te wees en om dieselfde tyd ook skoling te gee en dissipelskap te doen, het eenvoudig te veel geword! Ons het al vanaf 2010 gebid vir nuwe leiers! En nou is ons verheug dat die Here ’n egpaar, Marco en José Baan vanaf 2012 in die werk gebring het. Marius kon in hulle inbou en stadig maar seker het hulle die verantwoordelikhede van direkteurskap oorgeneem. Op 1 September was dit offisieel en het CEF internasionaal hulle aangestel as die nuwe direkteursegpaar vir Nederland.  Prys die Here! Op die foto dra Marius die kapteinspet oor aan Marco tydens 'n spanvergadering. Ons glo Marco sal ook die Groot Kaptein volg soos wat ons al die jare na gestreef het.

In Veritas is daar ook verskillende leiers (14) wat nou Veritas gee en 2 van die manne het predikante geword! Marius lei nou ook 9 ander op om begeleiers (fasiliteerders) te word.

Wat gaan ons doen noudat ons nie meer die leiers van IKEG is nie?  Ons bly deel van die span van IKEG deur alleen skoling te gee, maar fokus nou nou nog breër as net met IKEG, maar ook by die Bijbelskole en Veritaskollege. Dit is verbasend hoe baie kinderwerk weer terug kom in hierdie opleiding. Dit is opmerklik dat Marius rus vind en energie kry, deur weer hiermee besig te wees. Marco is een van die dissipels van Marius en hy begelei hom ook nog verder.

Ons is verras deurdat Bennie Wolvaardt, leier van Veritas internasionaal, Marius op dieselfde dag wat Marco aangestel is,  gevra het om Veritas nie alleen in Nederland nie, maar ook in Europa verder bekend te stel en waar moontlik, te ontwikkel. Dit is regtig besonder dat die Here die deure so oopgemaak het. Marius is in elk geval al betrokke in Parys met Johan Bloemhof en sy seun Jean, en twee ander, om hulle daar te help om die Veritas kursus te ontwikkel in hulle gebied.  Verder is daar moontlikhede in België en Engeland waar hy al reeds mee besig was. In Roemenië is Veritas ook gevestig en wil Marius die leier daar ook bemoedig en help. Dit is geen geheim dat die mense van Europa weer nodig het om terug te keer na ‘n ware verstaan van en liefde vir die Woord van God nie. Veritas is ‘n besondere instrument van die Here, glo ons en sien ons, om belanstellendes te leer hoe om weer waar te maak. Kinderevangelisasie is ook ‘n baie belangrike manier om uit te reik na jou buurt en omgewing en die 2 pas naatloos by mekaar aan. In module 2 les 22 kom dit ook uitgebreid aan die orde!

Dus het ons take oorgedra maar die bediening het groter en meer uitgebreid geword. Bid asseblief vir wysheid vir elke stap op die pad vorentoe. So het hierdie jaar nie alleen baie veranderinge in die samelewing gebring deur middel van COVID 19 nie, maar ook vir ons en in ons manier van werk het daar redelik baie verander! 

Ons wil julle graag ‘n baie Geseënde Kersfees en ‘n Godvrugtige nuwe jaar toewens. Dankie vir u/jou/julle troue betrokkenheid deur gebed en ook finansiële ondersteuning. Die vrug wat die Here op ons werk gee is ook weer die “rente op julle rekening”. Fil 4:17-18.


 Ons is afhanklik van bydraes vir  ons lewensonderhoud. As die Here dit op u hart lê, kan u 'n bydra in die volgende rekening inbetaal: 

Rekening: NKA,  Bank: ABSA,  Rek. nr.: 240 145 995 en vermeld u naam asb.

Tel. nr.: (012) 285 0635 

 E-pos: wilna.smit@mweb.co.za of stormpies@gmail.com

 


Dinsdag 11 Augustus 2020

Byna 400 jaar gelede en 20km van ons af?!

Toe ons die roeping in 1982 gekry  het om na Nederland te kom, het die Here die volgende teks gebruik om die aard van die roeping te bevestig.

Jes 58:12 "En die wat uit jou voortkom, sal die ou puinhope bou, die fondamente van die vorige geslagte sal jy oprig, en jy sal genoem word: Herbouer van gebreekte mure, hersteller van paaie, om bewoonbaar te maak.


As opsomming van hierdie teks was ons roeping dus om die gebroke geestelike mure van ons voorgeslagte te gaan herbou. Amanda se voorouers van haar vader se kant het in die vroeë jare van 1700 uit Amsterdam na Suid-Afrika vertrek en Marius se voorouers uit Leeuwaarden in die jare na 1750. Toe hierdie besef tot ons deurgedring het, was ons al verwonder dat twee van voorvaders wel uit Nederland vertrek het. (Die voorouers van Marius se moeder het uit Frankryk gekom). Ons het nooit nagegaan waar die voorgeslag van Amanda se moeder vandaan gekom het nie. Tot ons groot verbasing het ons nou uitgevind!

So het ons uitgevind ...Ons was 
nie meer verplig tot ‘n algehele vergrendeling nie en 'n maand gelede het ons, ons “kleinkat” in Abbenbroek gaan oppas, aangesien Estie en Daniël êrens anders moes wees. Groot was ons verrassing toe Amanda 'n Whatsapp berig van haar niggie uit Suid-Afrika gekry het. "Het ons geweet dat die voorouers van A
manda aan haar moeder se kant, met die van: “Pretorius”, ook uit Nederland gekom het?" Hulle het in Ouddorp gewoon! Haar groot-groot-grootvader was daar predikant gewees van 1639 af. Die kerk staan nog en 1508 staan op die kerktoring in Ouddorp. Van Abbenbroek af, was dit ongeveer 20km se ry!!! Hierdie dominee se seun het na Suid-Afrika gekom en het die Pretorius familie in SA kom vestig! Klaarblyklik is hy dan ook die voorgeslag van Andries Pretorius en waarna Pretoria ook vernoem was. Dit moes ons pas nou in Nederland ontdek!

Intussen is Daniël predikant in Abbenbroek - 20km van Ouddorp! Soos die meeste al weet, was hij 'n kind in ons klub en is met Estie getroud. ‘n Dag nadat ons Ouddorp toe is om te gaan kyk hoe die kerk lyk, waar Ds Pretorius so lank gelede predikant was, het Daniël en Estie saam met die gemeente van Abbenbroek ‘n kinderclub buite hulle kerkgebou gehou.  Die 
gebied waar hulle nou die Evangelie bring, net Suid van Rotterdam, staan tans bekend as "die eiland sonder 'n Heiland".... ", Die geestelike nood is dus ongelooflik groot.
"En hulle wat uit jou voortkom sal die ou gebroke mure en puinhope van die voorgeslagte herbou" het so vir ons ‘n besondere nuwe betekenis gekry!! Groot is die Here in Sy Wysheid en Almag! 


Ook kon mense deur IKEG opgelei word om Tuinklubs te hou in hierdie somer maande. Toe die maatreëls vir die grendeltyd verminder is, het mense tuin klubs begin hou waardeur kinders in die buurt bereik kon word. Die nodige afstand kon in ag geneem word en deur in die buitelug besig te wees, was daar minder kans dat iemand kan aansteek! Dit was en is nog besonder geseënd. Kinderwerkers het ook met hulle slimfone kontak met klub kinders gehou.

‘n Leidster van ‘n klub het íets uitsonderlik beleef. (ter wille van veiligheidsredes gee ons geen name van persone of plekke nie) Daar het 'n Moslim meisie die klub bygewoon. Sy het gereeld gehuil tydens die klub. Na die tyd het sy vertel dat sy bang is, want haar vader kyk na al die filmpies waar mense verbrand word. Die kontras was so groot. Die liefde van God en die haat van die radikale Islam het haar geraak. Sy het gereeld gekom en ongelooflik baie vrae gevra. Haar vader het gesê sy mag kom en luister solank sy dit net nie glo nie.
Prys die Here! Sy Woord is kragtig en kan haar hartjie deurbreek ondanks haar vader se opdrag. Bid julle asb saam, spesiaal vir haar, haar beskerming en al die kinders wat nou die Evangelie hoor. Dat die saad van die Woord in die harte van die kinders vrug sal dra!

Ons was in verwondering oor hoe God werk. In Jes 58 staan ook dat diegene wat uit jou voortkom zal die mure herbou. Johan en Leonie is steeds in Apeldoorn ook besig met geestelike werk. Johan het in die verlede gehelp met opelugklubs en was vir baie jare deel van die kampleiding by IKEG. Nou is hy meer betrokke in hulle gemeente self. Leonie is ook leidster/koorineerder van die kinderwerk in hulle gemeente. Marna en Gerben Jan voed hul kinders soveel moontlik op volgens die beginsels van Gods Woord. Ook as mens kyk hoeveel kinderwerkers al deur Marius en die IKEG span opgelei is, dan word mens stil dat die Here hierdie teks vir ons 'n besondere toepassing gegee het. Ook dat daar leiers opgelei word in en om Veritas en IKEG heen om die Evangelie suiwer te verkondig aan die ongelowiges en om die gelowiges op te bou in die geloof in ons stamland Nederland.

Verder is ons so dankbaar dat t.s.v. die "corona lockdown" en nou nog, ons met ons werk eenvoudig kon aangaan. Deur middel van Zoom kon Marius voort gaan om al sy lesings te gee. Dus ons opleiding het nie verander nie. Daar is nou 17 Veritasleiers opgelei wat toegerus is om mense te leer om die Bybel op 'n verantwoordelike manier uit te lê en dit bly 'n groot vreugde om hiermee betrokke te wees. Amper 'n 1000 mense het al van die modules gevolg wat ons hier in ons stamland gee. Die opleiding van nuwe leiers wat met die werk van die Here kan aangaan is een van ons fokuspunte en ons bemerk dat die Here in genade hierdie deel van ons bediening meer en meer seën.

Ons het intussen weer oupa en ouma geword van 'n kleinseun - Levi Jonathan Storm - die eersteling van Johan en Leonie - 'n pragtige gesonde seuntjie. Hy is op 9 Aug gebore. Ons is so dankbaar daarvoor!

Baie dankie vir julle betrokkenheid en steun ook in hierdie moeilike tye deur voorbidding en ook finansiële bydraes. Ons waardeer dit so BAIE. Bid asseblief vir seën en vrug op ons werk.