Donderdag 02 Desember 2021

Covid19 kon nie die deure toe maak nie!

Liewe familie en vriende

Wat 'n moeilike jaar was dit nie vir baie van ons nie?! Lande was gegrendel en mens moes ook  maar roei met die roeispane wat mens gehad het. En nou word   Suid-Afrika weer gesien as ‘n rooi land en kan niemand uit Europa daarheen of terug nie. Een ding is seker - ons het geleer dat die Here nie onkant gevang word deur hierdie hele situasie nie. Hy bly in beheer! Ons is baie dankbaar dat die bediening nie verhinder was hierdeur nie. Ons kon gewoon aangaan, soms sonder beperkings, soms met Zoom en wat die kinderwerk betref kon Marius se skoling eenvoudig aangaan. 


Dankbaar is ons vir die leierskap van Marco en José Baan wat laas jaar by ons by IKEG, as direkteursegpaar oorgeneem het. Marius gee nog skoling by verskillende groepe en skole. Maar hy het sy hande veral vol met Veritas opleidings en die verantwoordelikheid hiervoor in Europa. Daar is nou mense wat opleiding gee in Frankryk (Johan Bloemhof en ‘n span daar), Roemenië, en Engeland. (Die leiers is hier op die foto, in n zoom gesprek met Marius). Ook is iemand besig om in België in Engels die Veritas kursus te gee - hy in Engels en die mense het ‘n Arabiese handleiding voor hulle omdat hulle uit Irak kom. Die leiers is besonder entoesiasties en dit is elke keer n groot bemoediging om so bymekaar te kom.

Ons is ook baie opgewonde oor 'n nuwe uitdaging en dit is dat Marius DV via Zoom vir Afrikaanssprekende mense,  Veritas module 1 wil gee vanaf Januarie 2022. Mense van oor die hele wêreld mag inskakel! (ZA tyd om 19.00 tot 21.00). Dit gaan op Woensdagaande wees ongeveer elke 2e week. Het jy belangstelling daarin? Laat ons so gou as moontlik weet, deur n E-pos te stuur met die volgende in die onderwerp: “Veritas1ZA2022” na marius@veritascollege.org


Hartseer nuus is dat Barbera Nooitgadagt wat jare lank ons gehelp het in ons klub aan huis, met vertaal en korreksiewerk, in Februarie aan alvleisklier kanker oorlede is. Dit het baie vinnig gegaan en ons kon goeie gesprekke met haar gehad het. Wat besonder is, is dat nadat sy oorlede is, het haar familie ons gekontak om te vertel dat hulle ‘n briefie in die kombuis gekry het waarop sy geskryf het… “Marius kan my elektriese fiets kry”. Dis 'n besondere duur geskenk en iets wat mens altyd aan haar sal laat terug dink, met groot dankbaarheid.

Familie nuus: 

Ons het beide, in Oktober Covid19 gehad. Ons het soms besoek op afstand gehad. Leonie
en ander het gereeld inkopies vir ons gedoen en die sak by die voordeur gelaat. Op die foto het Daniël en Estie kom inloer. Soms het dit gelei tot heel wat spanning, wanneer die suurstof gehalte in Marius se bloed gedaal het, maar die Here was goed vir ons. Ons glo Hy het ons hierop voorberei deur van Junie af, 'n ander eetpatroon te laat volg - 
FireDiabetes.com. Ons het albei behoorlik gewig verloor en ons eet heerlik. Hulle het ook sekere voorskrifte vir wanneer mens Covid19 sou kry. Ons het dit gevolg en dit beteken o.a. dat mens vir die eerste 24 uur moet vas, en daarna nie enige koolhidrate en suikers mag eet nie. Virusse leef op die laasgenoemde twee produkte. Ons is baie dankbaar, want ons glo die Here het ons dit laat volg en ons glo dit het gehelp om ons deur Covid19 te kry. Ons besef ook dat daar mense is – ook familielede en vriende wat dit nie oorleef het nie en dit konfronteer ons ook met die moeilike vrae waarom ons wel? Dit is alleen die genade van die Here wat ons gespaar het, want Hy het blykbaar nog ʼn taak hier vir ons. (Sien hier onder)

Met Marna, Gerben Jan en kinders gaan dit ook goed en ons vind dit heerlik as Abigaile, Sophie, Lucas en David by ons kom inloer. Die drie oudstes is tieners met ouderdomme tussen 13 en 15 jaar en David is nou 8 jaar. Elkeen het natuurlik hulle eie belangstellings en beleef hulle eie interessante dinge op hulle persoonlike gebied.

Estie en Daniël ervaar sommer baie uitdagings in die gemeente, net suid van Rotterdam, waar hulle nou al twee jaar predikantsegpaar is. Ons sien hulle en liewe Igor, die kat, net veels té min (a.g.v. afstande en ook Covid19 beperkings). Wanneer ons hulle wel sien dan is dit byna ’n reünie!

Met Johan en Leonie gaan dit ook goed. Hulle is betrokke op verskillende terreine in die lewe en geniet baie van klein Levi. (14 maande) Ons kyk elke Vrydag na hom, wanneer hulle werk. Dit is n groot voorreg om dit te kan doen, al is die program elke week steeds baie vol.

Ons is so dankbaar dat ons kinders en aangetroudes, die Here wil volg en Hom wil dien in 'n moeilike samelewing wat al hoe meer teen die Christene keer. (Is dit nie wat die Here Jesus bedoel het dat aan die einde van die tye, alle volke julle sal haat  as gevolg van Sy Naam nie (Mat 24:9). Ons sien dit wêreldwyd nou gebeur en in alle lande!)

In ‘n vorige paragraaf oor Covid19 het ons  gesê die Here het blykbaar nog 'n taak vir ons hier. Hierdie taak bly 'n groot uitdaging, want die afvalligheid in die kerke, die toename van vrysinnigheid, die afwatering van die Evangelie en die hardheid in die samelewing neem angswekkend toe hier in Europa, maar ons saai getrou die saad en ons hoor van vrug onder die kinderwerkers en die seën op die skoling vir IKEG en Veritas! Dit is 'n ongelooflike bemoediging! En mag dit ook so ’n bemoediging wees vir elkeen van u wat ook op watter manier ook by ons en ons werk betrokke is. Maak die Here se naam groot, want dit is HY en nie ons of die span werkers nie! Hier sien u die opleiers van Veritas in Nederland, 7 kon nie bij een van die 2 byeenkomste wees nie. 

Ongelukkig neem die geestelike verval ook in Suid-Afrika toe. Ons lees ook dat daar al byna 90 gemeentes uit die NG kerk gedoleer het, omdat hulle nie meer die rigting,  onbybelse standpunte en opleiding in die kerk wil aanvaar nie. (dit is iets wat hier in Nederland in 1886 ook al gebeur het en waar gemeentes nie meer die Sinode finansieel steun nie en hulle distansieer van onbybelse besluite.) Lees meer hieroor wat in SA gebeur op www.kairosnetwerk.net as julle meer wil weet.)

Ons wil julle almal wat ons so getrou ondersteun in gebed en met bydraes bedank vir julle volgehoue steun en betrokkenheid. Ons het gehoop dat ons weer 'n geleentheid sal kan kry om Suid-Afrika toe te kom en te kom kuier, maar nou met hierdie nuwe Covid19 variant.... Word beplanning om te reis al hoe moeiliker en grense gaan toe. Dit bly te onseker hoe dinge verder gaan ontwikkel. Bid asb. Saam met ons dat die Here die pad sal aanwys vir die toekoms en wanneer dit die regte tyd sal wees om tog op besoek te kom.

Ons glo vas dat die Here groter is, as al die omstandighede om ons. HY is en bly ons enigste hoop. Daarvoor het Hy Sy Seun na die aarde gestuur: Om ons te red!  Hy is die enigste hoop vir hierdie wêreld.

Ons wens julle ‘n baie geseënde Kersfees en ’n hoopvolle en gesonde nuwe jaar toe. 

Met baie liefde

Marius en Amanda uit Nederland

  Ons is afhanklik van bydraes vir  ons lewensonderhoud. As die Here dit op u hart lê, kan u 'n bydra in die volgende rekening inbetaal: Rekening: NKA,  Bank: ABSA,  Rek. nr.: 240 145 995 en vermeld u naam asb.

Tel. nr.: (012) 285 0635 

 E-pos: wilna.smit@mweb.co.za of stormpies@gmail.com

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking