Maandag 16 Desember 2024

Is die tweede koms van die Here Jesus naby? Niemand weet dit nie! Maar… Maranatha!

Beste familie en vriende 

Ons word al hoe meer bewus van donker wolke wat begin saam pak, oor Europa. Die oorlogspanning met Rusland en die NAVO lande bou op oor Oekraïne. Israel is ook nie te ver van ons nie en wat alles daar gebeur is vir niemand onbekend nie. Sirië word nou ‘n kookpot en ons bid vir die Christene wat waarskynlik weer vervolging gaan kry. Ons het n groot groep Veritas kursus gangers daar! Dan staar ons die gevare van al die Moslem vlugtelinge wat geen geheim maak dat hulle Europa wil oorneem nie, in die oog. 

Mark Rutte die NAVO sekretaris generaal (leier), het net hierdie week Euopa gewaarsku om kontant in huis te hou, eksta water, nie bederfbare voedsel ens. Ons word duidelik voorberei op iets, waaroor hy seker meer weet as ons?!

Nogtans sien ons dat die Here getrou is, niks gebeur in hierdie wêreld sonder Sy wil. Hy bou sy koninkryk en hou dit in stand ondanks alles wat hier gebeur. Bid asseblief vir Europa en die bekering van mense tot die Here of gaan die Here weer ‘n oorlog gebruik om ons stamlande terug te roep na Hom? In die laatste vers in Handelinge lees ons dat alhoewel daar soveel moeilike dinge gebeur het ... Ons lees van vervolging, gevangenisstaf, skipbreuk, doodstraf ens, MAAR die Woord het ongehinderd sy gang gegaan....ons is so dankbaar wanneer ons ook sien dat die werk van die Here verder gaan ondanks alles: 

 IKEG 75 jaar 

Marco baan spreekt op jubileumdag
IKEG het hierdie jaar hulle 75ste jubileum gevier. Mary Trip het in 1949 vanuit die VSA hierheen gekom om kinders in Nederland te bereik. Ons is dankbaar dat ons amper die helfte van die tyd vir IKEG gewerk het (32 jaar), waarvan ons die grootste deel daarvan leiers was. Ons is dankbaar vir Herman en Gé van Brummelen wat voor ons die grootste deel van die tyd die leiers was. Hulle was soos ‘n geestelike vader en moeder vir ons. Die Here is so goed en getrou! Ons kon, soos julle weet, aan Marco en José Baan die leierskap oordra. Dit is ‘n vreugde om te sien hoe die werk onder hulle leierskap verder gaan.Marius is nog steeds betrokke by die skoling wat deur IKEG gegee word. Laas jaar het Marius die verdiepingskursusse 1 en 2 oor die jaar gegee (elkeen is 13 aande). Meer as 30 mense het die tyd geneem om die kursusse te volg. Bid asseblief saam dat
hulle baie kinders sal bereik met die Evangelie! Marius fokus op skoling in sy werk vir IKEG. Ons is dankbaar dat Marius die werk kon oorgee en dan terug staan. Ons het ‘n uitstekende verhouding met Marco en José en gee advies wanneer daarvoor gevra word. Dank die Here daarvoor! 

Dissipelskap

Marius ontmoet met verskillende manne vroeg in die oggend vir dissipelskap om hulle verder te help. Dit vra baie, want soms kom hy die vorige aand om 11-12 uur in die bed en moet dan 5:30 weer op wees vir hierdie geleenthede. Hy geniet die een-op-een gesprekke baie, die meeste ontmoet hy persoonlik, tuis, in die kerk maar ook oor Zoom. Ons is dankbaar vir die feit dat die Here ons nog so gebruik.  Amanda is behoorlik besig met om verhoudings te bou met ons ondersteuners en kontakte en werkers hier in Nederland en Suid-Afrika en is so ‘n steun vir die werk. 

 

Veritas

Die meeste van Marius se tyd, aandag en energie word aan Veritas spandeer. Hy is steeds betrokke met die aanbieding van modules in Apeldoorn (modules 1, 2 en 3) en in Amerongen by die Bybelskool module 1 en 2. Ook via Zoom gee hy les aan ‘n groep uit Suid-Afrika, Frankryk en Nederland (module 2) in Afrikaans, en ook apart op Zoom aan 2 manne in Antwerpen in België wat ook graag in België wil begin. Dit is ‘n voorreg om mense te help om die Woord van God op die regte manier te verklaar en te verstaan. Mens sien hoe die mense geestelik groei en dit is ‘n groot vreugde. 

Marius was dan ook vir ‘n week in Australië saam met die Veritas leiers van oor die hele wêreld. Dit was wonderlik maar ook konfronterend. Dit is duidelik dat in die eerste wêreld lande dit moeiliker is om mense te kry om die tyd en energie in te steek om so ‘n opleiding te volg. Laas jaar het Veritas aan meer as 33 000 mense kursusse aangebied! Dit is besonder om te sien hoeveel kursusse in Noord Afrika (Moslem lande) en midde Ooste gegee word, byvoorbeeld in lande soos Mauritanië, Tunisië, Egipte,  Noord en Suid Soedan, Sirië in die Midde ooste en nog meer – almal Moslem lande waar mens dit nie verwag nie! Die Here is besig om iets in die lande te doen! Ook ons leier in Indië was ‘n inspirasie. Elke keer as hy vertrek om opleiding in Indië te gee, moet hy afskeid neem van sy vrou en kinders want die geweld teen Christene neem daar so toe dat hy nie weet of hy hulle weer gaan sien nie. 


In Europa seën die Here die werk in Nederland op ‘n besondere wyse. Maar hier is ook uitdagings! Die mense is besig en die prioriteit om die Here eerste te stel, bly ‘n stryd. Ook is ons besig om biddend te kyk na hoe mens die werk verder kan uitbrei, omdat die geestelike nood so groot is in Europa en gelowiges heen en weer geslinger word deur elke wind van leer. Ons vertrou dat Veritas mense ‘n houvas sal gee en onderskeidingsvermoë om staande te bly. Ons het nou werkers in Frankryk, Engeland, Switserland en ook in Roemenië. Roemenië het die leiers gestop maar ons soek na iemand wat daar weer leiding kan begin neem. Soos al gesê is Marius besig met die 2 manne in België wat module 1 volg en hulle wil baie graag in België dit ook gee. Bid asseblief vir ons om wysheid te hê oor hoe om Veritas verder te ontwikkel. Duitsland word ‘n ook moontlike nuwe uitdaging is daar moontlikhede om ook daar te begin. Ons stam lande raak verder en verder van God verwyder, bid vir n herlewing hier asseblief.

Dissipelskap

Marius ontmoet met verskillende manne vroeg in die oggend vir dissipelskap om hulle verder te help. Dit vra baie, want soms kom hy die vorige aand om 11-12 uur in die bed en moet dan 5:30 weer op wees vir hierdie geleenthede. Hy geniet die een-op-een gesprekke baie, die meeste ontmoet hy persoonlik, tuis, in die kerk maar ook oor Zoom. Ons is dankbaar vir die feit dat die Here ons nog so gebruik. 

Amanda is behoorlik besig met om verhoudings te bou met ons ondersteuners en kontakte en werkers hier in Nederland en Suid-Afrika en is so ‘n steun vir die werk. 

Gesin

Met die res van die familie gaan dit regtig goed en ons is dankbaar dat die Here Sy pad met elkeen van hulle loop. 

Die kinders van Marna en Gerben Jan is al groot 18, 16, 16 en 10. Estie en Daniël het nog ‘n pleeg dogtertjie bygekry – nogal die sussie van die seuntjie wat by hulle reeds is. (Hulle name word nie genoem nie omdat die vertroulik is en nie op internet geplaas mag word nie.) Hulle is nou 2 ½ jaar en 1 jaar oud. By Johan en Leonie is Levi (4) en Jesse (1 ½) Dit is ‘n groot vreugde en geniet ouma en oupa baie van die verhoudings met almal saam en/of individueel. 


Ons wens u almal ‘n baie geseënde herdenking van die geboorte van die Here Jesus en jaarwisseling toe. God met ons - wat n wonder. 1Joh 1:1-4. Mag daar weer baie Godsvrug in in 2025 wees vir u en u geliefdes. Onthou – die Here kom terug en ons moet gereed wees! Maranata!

Baie dankie vir almal wat so oor die jare getrou by ons en ons werk betrokke gebly het en ons nog steeds ondersteun en vir ons bid. Ons kan getuig dat Hy wat ons geroep het is en bly steeds getrou. 

Met hartlike groete

Marius en Amanda Storm

Nederland

Dank en lofprysing:

· Loof die Here vir Sy liefde, sorg en nabyheid hierdie afgelope jare.

· Loof die Here vir Sy genade wat Hy ons ondanks wie ons is, gebruik.

· Dank die Here vir elkeen wat oor al die jare by ons en ons werk betrokke was en bly!

· Dank die Here vir die leiers, werkers en besture van die NKA, IKEG en Veritas en dat de Here de eenheid, fokus en toewyding sal bly seën.

· Dank die Here vir Marco en José Baan wat die leierskap van IKEG oorgeneem het en vir 75 jaar se bestaan in Nederland!

· Dankie vir die nuwe Veritas bestuur vir hulle fokus en toewyding.

 

Bid saam met ons:

· Bid vir Europa en ons stamlande dat hulle sal sien dat hulle verlore is.

· vir wysheid hoe Marius die werk in Europa moet help ontwikkel

· dat ons staande sal bly met die aanvalle wat ons ervaar op ons as egpaar en ons werk.

· Vir die dreigende oorlog in Oekraïne dat die nie sal eskaleer  ondanks alle waarskuwings

· om gefokus te bly op Bybelse uitgangspunte in ons bediening, want die weerstand groei en die druk word groter om kompromie te smee. Veral onder invloed van die sosiale wetenskappe.

· vir krag, gesondheid en volharding om vol te hou.

· wysheid mbt die groeiende vraag van manne wat wil hê dat Marius met hulle tyd moet spandeer in een-tot-een dissipelskap.

· dat ons in de besige program nooit ons eie stiltetyd en tyd met die Here sal verwaarloos. Dit moet prioriteit bly!

· dat mense wat betrokke by ons en ons werk is, getrou en betrokke sal bly met hulle ondersteuning op verskillende manieren en vir meer mense wat agter ons en ons werk sal staan.

 

 


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking